Life

Koffie Met Katryn

Die eerste Koffie met Katryn is om die draai en ek dink dit is die perfekte tyd om julle te vertel van my ervaring en julle te oortuig om te gaan. Ek het die laaste Koffie met Katryn Werkswinkel saam met Masch bygewoon in 2019.

Hoe het dit gebeur? Wel, ek wou so graag saam met Katryn kuier vroeër in die jaar, maar elke keer het daar iets voorgeval. Dit was vir my so teleurstellend. Ek wou regtig bitter graag gaan.

Net voor my verjaarsdag in November, laas jaar, sien ek die laaste Koffie met Katryn vir die jaar raak. Dit was gekombineer met ‘n werkswinkel ook. Wat dit net nog beter gemaak het was dit het met leer te doen gehad!

Vir iemand wat, nommer een, lief is vir gesels, nommer twee, lief is vir goed met my hande maak en doen, nommer drie, verlief is op leer en “locally made stuff”, en nommer vier, bitter graag vir Katryn wil ontmoet, was dit die beste idee.

My ma bly karring aan my oor wat ek graag vir my verjaarsdag wil hê en hier val my geskenk in my skoot. Ek moes eers check of ek werk, nee ek was af die naweek, hoe ek daar gaan kom, ek het net een werkende arm en of dit in die verjaarsdag begroting pas.

Al die checks is gedoen. Ek werk nie, my pa sal my chauffeur wees en dit pas in die begroting. “Mamma, bespreek die kaartjie!”. Okei, ek het dit self bespreek en betaal (met Mamma se kaart), want sy weet nie hoe nie.

Dankie vir my verjaarsdag present Mamma. Ek gaan 7 Desember 2019 uiteindelik vir Katryn ontmoet én ek my eie leer clutch maak by Masch.

Dit was ‘n belangrike dag. Sussie moes help om die hare mooi te maak, ek het vroeg in die kooi geklim en my klere wat ek wou aantrek was skoon, gestryk en bymekaar gesit. Ek wou nie laat wees nie. Mens sou sweer ek gaan die president ontmoet, maar hierdie was net soveel cooler.

Ek en my pa het by die verkeerde hek opgeëindig danksy die gps tannie. Ek hoor toe later daai hek word net gesluit oor naweke so die gps tannie was nie so verkeerd nie. Jammer tannie.

Ons moes wel ook aanwysings vra binne in Klein Joostenberg want ek het nie mooi geluister toe Madrie vir my verduidelik waar om te gaan nie. Ek skryf dit toe aan die feit dat ek net so dankbaar was dat ek nie by die verkeerde plek was nie en die opgewonde faktor.

Ek was tweede daar en te vroeg, maar ek het my chauffer weg gestuur, dankie Pappa, en soos ‘n senuweeagtige graad 1 op die eerste dag van skool gewag, en solank fotos geneem van die cool Masch bussie.

kmk 1

9 uur en die oomblik was daar. Ek word ingenooi saam met die ander vroutjies deur vriendelike, lieflike Katryn. Katryn is soos ‘n vars briessie op ‘n Lente oggend. Plat op die aarde, vriendelik en net mens.

Ons elkeen kry ‘n drukkie by Madrie, sou ‘n oulike mense en dan is die oggend aan die gang.

Dit was soos die gekwetter van ‘n swerm mossies, in die bome op Yzerfontein, op ‘n somers oggend.  Almal gesels en lag. Daar was koffie, eetgoedjies en die mooiste koekkies, amper te mooi om te eet.

Ek vergaap my, letterlik want ek moes ‘n paar keer my mond toe maak, aan die mooi goed binne in die Masch winkel. Dit is handgemaak in Suid Afrika. Die kredietkaart het gebrand in my sak, maar op die ou einde was dit veilig. Ek het mos nou my eie clutch. Ek sal spaar en ander dag weer ondersteun.

kmk 5

Madrie het ons mooi gelei met stap-vir-stap instruksies oor hoe om te maak. Sy het selfs haar hand vir my geleën siende dat ek minus een is. Ps. Sy het nog al haar vingers.  Ons vrouens het mekaar ook gehelp en dit was spesiaal. Dit was so spesiaal met ma-en-dogter spanne, vriendinne, suster uitstappie en die enkeles wat net inpas.

kmk 9

Katryn het deurentyd by almal ‘n draai gemaak en was besorg oor elkeen. Sy het met ons haar wyshede en ervarings gedeel wat super cool was. Soveel het al gebeur in haar lewe en jy kan soveel leer. Dit was amazing.

Ons het selfs ‘n klein giveaway gehad. Karla van Flink het ‘n hempie geborg. Al wat jy moes doen is om die vraag te beantwoord. Wat is die steek se naam wat ons gebruik het om die leer vas te werk?

My hand was eerste op. Dit was nie die komberssteek nie. Ander het ook geraai, maar ons het bietjie van ‘n dowwerige uitdrukking gehad. Madrie het toe ‘n luidraad gegee (dit het iets met ‘n perd te doen). Toe helder my brein op, en my mond oe-oe-oe en die een arm wat werk is in die lig, die antwoord is saddle stitch.

Yeah! Ek wou al so lankal ‘n Vreesloos hempie gehad het en daar wen ek een met ‘n gelukskoot raai.

Dit was die lekkerste oggend saam met ‘n lieflike klomp mense. Ek het dit vreeslik geniet.

kmk 12

Als was daar wat ek altyd sien op sosiale media. Die blomme muur, Jean met sy kamera, koffie, Katryn, glimlagte en ‘n ontspanne atmosfeer.

Ek sal beslis ‘n honderd keer weer gaan, want jy gaan elke keer met nuwe wyshede, nuwe ervarings, nuwe kennisse en nuwe vriendinne daar weg gaan.

Dankie Katryn. Jy bring vrouens bymekaar en dit is kosbaar.

Gaan volg haar en Masch op Instagram. Als wat jy wil weet ten opsigte van die volgende Koffie met Katryn oggende en Masch se produkte is op hul afsonderlike blaaie met beautiful fotos!

kmk 13

Katryn Kruger Instagram

Masch Instagram

Doen dit net!

Tot volgende keer.

Toodles!

 

One thought on “Koffie Met Katryn

Leave a Reply to Bondelsgedagtes Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s